Trans Agulhas Challenge
 
HOME
STAGES
RULES
SPONSORS
GENERAL INFO
DOCS & LINKS
GALLERY
RESULTS
HISTORY
News
STORIES
CONTACT




DOWNLOAD TracTrac


 

Press Releases / Articles

RETURN TO INDEX

Veteraan slaggereed vir sy 22ste Trans Agulhas

PUBLISHED ON 19 DECEMBER 2013
Wimpie Ackermann en sy spanmaat Whitey Louw troef die branders tydens verlede jaar se wedvaart    —    CREDIT: HEINRICH SAUER

Hy wou ná sy tiende Trans Agulhas Uitdaagvaart vir rubberbote sy duikpak ophang, toe weer ná die 15de wedvaart en wéér ná die 20ste een, maar Wimpie Ackermann is soos die spreekwoordelike kat wat weer kom. Vanjaar sal hy vir die 22ste keer aan dié moordende wedvaart deelneem.

"Dit is 'n harde sport," verduidelik Wimpie. En 'n mens se liggaam kan net soveel vat. "Ek't 'n paar keer gedink dis seker maar tyd om op te hou deelneem, maar jong, as die gogga jou eers gebyt het ..."

Wimpie, nou 46, sê hy's elke jaar Desember dankbaar dat hy nog gesond en fiks genoeg is om aan die Trans Agulhas te kan deelneem. Dié rubberbootwedvaart word oor vyf dae en meer as 700km beslis.

Wimpie is in 1990 aan die sportsoort voorgestel deur die legendariese Rob Louw, wat toe saam met sy broer bote gebou het. "Ek sal nooit daai dag vergeet nie. Rob-hulle het die dag 'n branderrybyeenkoms by Blouberg aangebied. Ek was net van plan om 'n bootjie te koop om mee rond te speel op die water, toe sê Rob hy dink ek moet begin deelneem.

"Hy bied toe aan om vir my 'n boot te bou. Vir 'n volle R3 300. En twee weke later het ek aan my eerste kompetisie deelgeneem."

Die begindae was maar moeilik, erken Wimpie. Hy't baie foute gemaak, maar natuurlik baie geleer daaruit. Moed opgee was egter nooit 'n opsie nie. Want sien, die see en spoed is in sy bloed en met dié sport word altwee hierdie passies bevredig.

"Ons het met die see grootgeword. My pa het 'n boot op Kalkbaai gehad en naweke het ek en my broer saam met hom die waters aangedurf. Hy was 'n meganiese ou. Dis by hom wat ek en my broer ons liefde vir die see en vir meganika gekry het," sê dié boorling van Bellville en oud-leerder van HTS Bellville.

Om aan rubberbootwedvaarte deel te neem is 'n duur sport en sonder 'n borg sal dit maar sukkel-sukkel gaan. Wimpie en sy spanmaat Whitey Louw (wat die afgelope ses jaar aan sy sy is) is in die bevoorregte posisie dat Imperial Cargo die span reeds die afgelope sewe jaar borg.

"Een van my grootste teleurstellings was die jaar toe ek my twintigste Trans Agulhas gedoen het. Dit was die tiende jaar met Imperial as borg van die Trans Agulhas en ek wou so graag, ter wille van hulle, my klas wen. Maar alles het daardie jaar verkeerd gegaan. Ek het vir die eerste keer sedert ek begin deelneem het, my boot omgegooi. En dit op 'n klein brandertjie. Dit was hartsverskeurend," vertel Wimpie.

Hy't egter met mag en mening opgemaak met verlede jaar se wedvaart en danksy 'n paar slim taktiese besluite eerste oor die wenstreep by Strand gejaag.

Die regte taktiek is baie belangrik. So ook die voorafbesluite wat jy as 'n span maak wanneer jy jou boot opstel vir die dag se wedvaart.

"Watter propeller jy gaan gebruik, hoe jy jou enjin gaan 'trim', hoe hoog jy jou enjin gaan stel, al hierdie dinge speel 'n rol. En dan moet jou enjin en ander toerusting natuurlik betroubaar wees. Jy kan die beste ryer wees, maar as jou enjin oppak, is jou wedren verby."

Die weer speel natuurlik ook 'n reuse-rol. En moenie dink dit is net 'n geval van tuur oor die see en neem 'n besluit nie! "Die water kan by Plettenbergbaai seepglad wees en dan, net om die draai kan jy jou in woeste waters bevind.

Daar's 'n paar eienskappe wat 'n mens móét hê om 'n sukses van die sport te maak. Uithouvermoë is seker die belangrikste een. Behalwe dat 'n mens fisiek fiks moet wees, moet jy ook brein-fiks wees want 'n mens kan nie vir een oomblik jou konsentrasie verloor nie.

Wimpie en spanmaat Whitey begin al in Oktober elke jaar oefen vir die Trans Agulhas. "Ons spandeer ure op die water en probeer om ten minste 1500 km af te lê in hierdie tyd. Hulle hou ook hul gewig dop. "Die krag-tot-massa-verhouding is 'n groot faktor. Hoe ligter jy is, hoe meer petrol kan jy saamry, wat kan beteken dat jy dalk 'n petrol-stop kan mis."

Dié twee manne het beslis 'n "gewigsvoordeel" – Wimpie weeg 68kg en Whitey 67kg.

Wimpie, wat vir die lugmag op Bredasdorp werk, sê hy is slaggereed vir vanjaar se wedvaart. Die spanne in sy klas (die professionele klas of die destydse Blue Print-klas) is almal veterane in die sport en, net soos Wimpie en Whitey, erg kompeterend. "Die span van Nulandis (Stefan Lindeque en Tony Ingram) en Rusgenot se Dryer van Niekerk en Floris de Kock is altyd ongelooflik goed voorbereid. Op die water is dit elke span vir homself, maar ons kan darem altyd ná die dag se resies 'n bier saam drink en gesels oor die dag se gebeure."

Wimpie het in sy Trans Agulhas-loopbaan reeds 12 keer in verskillende klasse eerste oor die wenstreep gejaag. Slegs twee jaar kon hy nie die podium haal nie.

Op 28 Desember sal Wimpie en Whitey by die beginpunt van die 26ste Trans Agulhas Uitdaagvaart vir rubberbote wees. En wie weet, dalk is dit weer Imperial Cargo se span wat op 1 Januarie eerste oor die wenstreep jaag by Strand.

Tags


wimpie ackerman, whitey louw, 22ste, trans agulhas uitdaagvaart
VIEWED.  3856 

 

Club Agulhas Klub Trans Agulhas on Facebook
© 2019 TRANS AGULHAS CHALLENGE (TAC)  |  TIGME.COM
spacer