Trans Agulhas Challenge
 
HOME
STAGES
RULES
SPONSORS
GENERAL INFO
DOCS & LINKS
GALLERY
RESULTS
HISTORY
News
STORIES
CONTACT




DOWNLOAD TracTrac


 

Press Releases / Articles

RETURN TO INDEX

Die Boertjie, die Rus en die rubberboot

PUBLISHED ON 4 JANUARY 2014
Dmitri Krylov en Wiltas Leeuwner in volle vaart by die 2013 Trans Agulhas    —    CREDIT: HEINRICH SAUER

'n Rus wat nie Afrikaans of Engels kan praat nie, het vanjaar 'n 18-jarige Afrikanerseun (wat verseker nie Russies kan praat nie), gekies as sy spanmaat vir die Trans Agulhas-rubberbootwedvaart, wat op nuwejaarsdag op Strand geëindig het.

Wiltas Leeuwner van Gansbaai ken na dese verseker 'n paar Russiese vloekwoorde, want op dié moordende wedvaart oor 702km kan 'n mens nie anders as om soms 'n paar kragwoorde te uiter nie. Dmitri Krylov neem sy sport baie ernstig op en dit was maar min dat 'n mens dié man sien glimlag het ten tyde van die vyfdag-wedvaart. Vra jy hom egter oor sy Afrikaanse spanmaat, helder sy gesig op.

"Ek is baie tevrede met Wiltas. Hy ken die roete soos die palm van sy hand en ons werk baie goed saam," vertel Dmitri via sy vrou, Irina, wat Engels magtig is.

Dit was die tweede keer wat Dmitri die Trans Agulhas aangepak het. Dit het in 2012 dramaties geëindig toe Dmitri en sy spanmaat, Leny Ningui, 'n growwe navigasiefout gemaak het en die eindpunt by Strand heeltemal misgery het.

Die twee het reguit oor Valsbaai gejaag in die rigting van Kaappunt. Hulle het naby die V&A Waterfront opgeëindig, doodmoeg en bloedrooi gebrand.

Toe die span nie by die eindpunt opdaag nie, is 'n see- en lug-soektog van stapel gestuur om hulle op te spoor. Terwyl die soektog aan die gang was, het Dmitri die wedvaartorganiseerders laat weet hy en sy spanmaat is ongedeerd.

"Dis hoekom ek weer hier is. Ek moes aan myself en die ander mense bewys dat ek die wedvaart kan voltooi, ek't net die regte spanmaat nodig gehad," sê Dmitri.

As hy in 2015 weer vir Wiltas as spanmaat kan kry in die Trans Agulhas, sal hy verseker weer kom deelneem, voeg Dmitri by, al kos dit hom 'n plaas se prys om te kom deelneem.

"Wiltas en Dmitri het van dag een af gekliek," vertel Irina. Sy wou nog help om te vertaal, toe het die Rus en die Afrikaner klaar in gebaretaal begin gesels.


Dmitri en Wiltas sit en wag vir die begin van die Koning van die Branders-wedvaart  —  CREDIT: LINELLE KOTZE
 

Volgens Wiltas "verstaan" hy en Dmitri mekaar. En as Dmitri sy humeur verloor, wys Wiltas net vir hom in gebaretaal hy moet jaag, hy is besig om tyd te mors. "Soms is dit beter dat ek nie verstaan wat Dmitri sê nie," spot Wiltas.

Dit was Wiltas se eerste Trans Agulhas. Hy was ingeskryf vir die 2013-wedvaart as 'n nuweling, maar hulle moes onttrek toe sy spanmaat siek geword het.

Gelukkig vir Wiltas het die span van Ladismith Kaas 'n plekkie vir hom in hulle ondersteuningspan gehad en kon hy saam met die span na Plettenbergbaai reis.

Dit is hier waar sy geluk gedraai het toe die organiseerders hom op die eerste dag van die wedvaart gevra het of hy nie saam met Dmitri sal ry nie. Dmitri se spanmaat se ou elmboogbesering het weer kop uitgesteek en hy moes onttrek.

"My pa, Calla, het aan die Trans Agulhas deelgeneem toe ek 'n klein laaitie was. Ek wou dit nog altyd bittergraag doen, dus het ek nie twee keer gedink om ja te sê nie," vertel Wiltas.

Die span jaag sonder 'n hoofborg en volgens Dmitri het dit hulle ongeveer 30 000 Amerikaanse dollar gekos om deel te neem. "Ek het my boot by Gemini gekoop. Hier in Suid-Afrika het ek bevriend geraak met die direkteur van Gemini Marine, Henning Blaauw. Henning is ons baie goedgesind het my boot en ons akkommodasie geborg."

Dié Rus het in 2011 op die ouderdom van 43 vir die eerste keer sy voete in 'n boot gesit nadat hy videogrepe van rubberbootwedvaarte op die internet gesien het. Hy't 'n boot in Maart 2011 gekoop en drie maande later aan die Russiese Thundercat nasionale kampioenskap deelgeneem. Hy't in die vierde plek geëindig. In 2012 en 2013 het hy die silwermedalje gekry.

By die wêreldkampioenskap in Augustus 2012 het sy paaie gekruis met 'n Trans Agulhas-veteraan, Stefan Lindeque, wat hom genooi het om aan dié wedvaart, bekend as die wêreld se "taaiste en langste" te kom deelneem. Vier maande later was hy hier – slaggereed vir sy eerste Trans Agulhas.

Hy het nie woorde om sy teleurstelling oor sy eerste Trans Agulhas te beskryf nie. Hierdie keer was hy ekstra versigtig, met net een doel voor oë, om by die eindpunt in Strand te kom. En danksy Wiltas, kon Dmitri 2014 met 'n breë glimlag begin ... én 'n suksesvolle Trans Agulhas agter sy naam.

"Ek sal enige tyd weer saam met hom ry," vertel Wiltas, effe lyfseer ná sy eerste Trans Agulhas, maar baie tevrede.

Tags


trans agulhas challenge, 2013-2014, rus, boer, dmitri krylov, wiltas leeuwner
VIEWED.  3920 

 

Club Agulhas Klub Trans Agulhas on Facebook
© 2019 TRANS AGULHAS CHALLENGE (TAC)  |  TIGME.COM
spacer